Onderhoud met Antjie Krog, digter
‘n Besonderse bederf: ‘n gedigstring deur Antjie Krog vanuit haar digbundel, Verweefskrif. Versindaba doen ook ‘n onderhoud met die digter oor die spesifieke gedig se ontstaan en samestelling.
Uit Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg
woensdag 18 junie
ek kan nie na jou kyk
nie – nie vandag nie. met afgewende
oë gaan ek my elke-
dagse gang. daar’s nie meer plek vir die
vrywillige aanbod
van my self aan jou klipvervuldheidnie. oor my bevreesde
lyf beweeg my hand telkens op na
my bors in die hoop dat
die dooie klei-sel daar nie sal wees
nie, dat die hand haar net
verbeel het, dat dit intussen welverdwyn het. die berg staan
skoongesny en deurgebrand. ek leef
by die asem van die berg.
ek het geen ander vermoëns nie.
aan die vloeikant sing ligsome, aan
die lykant is niks, nieeens ‘n enkele lyn
wat van my weet nie. sterflikheid lê
soos sweet op my bo-lip
ek wil weet/wil nie weet nie/wil weet
wil als/wil niks weet nie
Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek het my kind gehelp met ʼn kunstaak oor Cézanne wat die berg Sainte Victoire meer as sestig keer van sy huis af geskilder het. Toe onthou ek hoe Ingrid Winterbach die maan oor en oor beskryf het in daardie nie -genoeg volprese boek “Belemmering”. Skielik was ek bewus van my veranderde gevoel oor die Vrystaatse landskap en begin dink dit is dalk juis omdat ek dit so met volgehoue toewyding sedert my eerste skryfsels beskryf het. As ek nou deur die Vrystaat ry gryp dit my nog net soos altyd aan, maar in plaas van gedrewe voel om dit in taal vas te vang, kom my eie reëls nou by my op: daardie soort lig is so beskryf, die wintersgras is so verbeeld, die Oos-Vrystaatse berge het ek in daardie boek vasgevang. Ek ry dus in volkome vrede deur die landskap asof ek daarin tot rus gekom het. Intussen bly ek al byna agtien jaar in die kaap en kon nog nooit werklik oorgaan om dit te konfronteer nie – hier en daar wel, maar nie op ʼn sistematiese manier nie. Mens het ook akademies begin bewus raak van landskapbeskrywing, van die verband tussen eienaarskap en grond, om grond toe te eien deur taal, so ek het dit aanvanklik gelos. Maar na “A change of tongue” wou ek terugkeer na gedigte en moes my forseer na die anderkant van my brein. Ek het toe begin met ʼn soort dagboek en twee weke lank in elke seisoen elke dag op verskillende tye inskrywings gemaak. Ek moes en mag niks probeer “sê” nie; net bloot formuleer wat die oog sien. Geen denke nie, net sintuig en vir my is taal ook ʼn sintuig. Die berg moes nie ʼn metafoor of simbool van iets wees nie, net oor en oor en oor beskryf word, neutraal, skoon. Maar soos wat die proses verloop, het allerhande ander dinge oor my pad gekom wat neerslag in die beskrywings gevind het. Daardie soort van skryf lei ook natuurlik tot sy eie simboliek. Ek het begin navorsing doen oor die verskillende kleure klip van die berg, die plantegroei as ek gaan stap, die rede waarom die wolke so afstroom en dan verdamp, ek het taalloos gesit en kyk na die brutale woede van die suidoos wat die berg afstorm, die wonderlike pers hittevlam in die somers, die brande. Ek het ook gevind soms kon ek die berg op geen ander manier as menslik beskryf nie.
Boekbesonderhede
- Verweefskrif deur Antjie Krog
EAN: 9781415200063
Find this book with BOOK Finder!













Please register or log in to comment