Fanie Viljoen gesels met Carina Diedericks-Hugo oor haar oorgrensroman, Die verdrinking van Josua van Eden
In sy openingswoord stel Louis Esterhuizen, eienaar van Protea Boekwinkel in Stellenbosch vir Carina Diedericks-Hugo en haar gespreksleier, Fanie Viljoen bekend as twee jong skrywers “wat die landskap van jeuglekuur in Suid-Afrika herskryf het.”
In die gehoor sit oud en jonk: vriende, skoolleerlinge en lede van die publiek.
Carina praat jongmens-taal; die taal van rekenaarspeletjies, die internet, multimedia en ja, selfs Facebook! Sy het ’n besondere begrip vir die kompleksiteit van jonk wees en meen “As [sy] weer ’n tiener moet wees, sal [sy] nie cope nie. Mens kan net een keer tiener wees!”
Die oorgrensroman -wat gerig is op die jeug soveel as die volwassene- is ’n genre wat tot op hede uiters skaars is in die Suid-Afrikaanse literatuur. Carina verduidelik dat die uitdaging daarin lê om nie te eksplisiet te skryf nie, maar steeds relevansie te behou. “Suggestie speel ’n groot rol”, sê sy.
Fanie vra: “Hoe sit jy vleis en bene aan karakters?” Daarop kug-lag sy effens en erken dat sy die gewoonte het – “wat intussen obsessie geword het”- om mense af te luister. Sy is duidelik ’n fyn waarnemer wat haar alledaagse ervaringe verweef met die fiktiewe om aan stories geboorte te gee.
Carina besef hoeveel krag daar in lesers se identifisering met hoofkarakters lê en maak daarom moeite om op ’n subtiele wyse deur hierdie fiktiewe mense leesgierigheid by jong lesers op te wakker. Titania is dus nie net ‘n cool, feeagtige misterie nie, maar ook ingeligte leser wat haar wysmaak met die lees van onder meer Simone de Beauvoir. Oor Joshua se pleitende woorde: “Ek is nie ’n wroegboek nie”, vertel die skrywer van die boeke wat destyds aan haar as tiener voorgelê is en absoluut geen lees-aptyt by haar gewakker het nie!
Carina lees ten slotte een van Joshua se drome uit die boek voor. Spontaan volg die gehoor se applous, terwyl Viljoen haar met gepaste woordkeuse gelukwens: “Baie cool!”
Boekbesonderhede
- Die verdrinking van Josua van Eden deur Carina Diedericks-Hugo
Boektuisblad
EAN: 9781415200650
Find this book with BOOK Finder!
Please register or log in to comment